Julie 28 - Die Puk Rugbyinstituut het die Universiteit van Johannesburg Dinsdagaand danksy sy agttal 29-20 geklop om ‘n onaanvegbare posisie in die Predatorliga in te neem.
Die Puk het die aand met ‘n monsterdryf van sowat 25 meter afgesluit wat tot ‘n strafdrie onder die pale gelei het om die Johannesburgers se lot te verseël.
Tot minute vroeër het dit na ‘n kykweer van die Varsitybeker-kragmeting vroeër die seisoen in Potchefstroom gelyk toe Ryno Luus twee keer aangelê het pale toe om die wedstryd weer 23-22 vir die UJ te wen.
Luus het twee keer van omtrent presies dieselfde plek geskop en die tweede een was nader maar nie in die kol nie.
Die Puk het vroeër die aand hul gebruiklike dryfdrie deur Dirco Rautenbach gedruk.
Die agtsteman Spanner Pretorius het die eerste drie gedruk na ‘n halwe-breekslag deur Worsie Kotze, maar die Puk se talisman het die veld kort daarna met ‘n seer skouer verlaat.
Die beste drie van die aand is deur die haker BW van Dyk gedruk nadat Markus Fourie weeggebreek het, ingehaal is en na Andries Mahoney laat loop het, wat teruggedra is uit die doelgebied en hy Van Dyk in besit gestel het.
Dit was nie eenrigtingverkeer nie en die UJ was tot op die einde in ‘n posisie om te wen.
Die skrumskakel Danny Botha het ook ‘n skitterdrie gedruk na ‘n André Smith-breekslag en Yssel Swanepoel het in die tweede helfte gedruk na ‘n goeie lopie.
*Die Puk is na hul bonuspunt Dinsdagaand gelyk met die UJ op 66 punte en hulle het ‘n wedstryd minder gespeel. Hulle punteverskil is ook heelwat groter as die Johannesburgers en behoort nou in die eerste plek op die punteleer te eindig.
Punte:
Pukke:Drieë: Spanner Pretorius, Dirco Rautenbach, BW van Dyk, Strafdrie. Doelskoppe: Worsie Kotzé, Malan van der Merwe (2). Strafdoel: Van der Merwe.
UJ: Drieë: Danny Botha, Yssel Swanepoel. Doelskoppe: André Smith, Ryno Luus. Strafdoele: Smith, Luus. |
|