Maart 1- Bastion kon Maandagaand nie aan 'n sewe-punt voorsprong vasklou om teen Maroela van Tuks in die Steinhoff Koshuisliga te wen nie.
Bastion het in die eerste twintig minute gedomineer en in Maroela se helfte geboer, maar kon slegs met 'n skepskop deur losskakel Pusher Janse van Vuuren slaag.
Adriaan Bornman, Maroela se heelagter, het eers in die 19e minuut met 'n 45-meter strafskop geantwoord. Steinhoff Bastion se Corné Janse van Vuuren het dadelik met 'n strafskop teruggeslaan
Bornman het toe net 'n paar minute later weer die bal deur die pale gejaag om die telling weer gelykop te maak.
Bastion moes besef het dat díé wedstryd nie deur strafskoppe bepaal kan word nie en flink spel deur Merlot van der Merwe het verseker dat Maximus Ngcobo agter die pale sy drie kon druk. Corné Janse van Vuuren het die drie verdoel om Bastion 13-6 te laat voorloop.
'n Strafskop deur Bornman en Janse van Vuuren onderskeidelik het gesorg dat die manne kan gaan water drink met die telling op 16-9.
Dit was egter Bastion se laaste punte vir die wedstryd, na Janse van Vuuren nie vroeg in die tweede helfte met 'n strafskop van 50 meter kon slaag nie.
Bornman het self daarna met 'n strafskop misluk, maar 'n drie in die negende minuut van die tweede helfte deur agsteman Rudolph Smith het Bastion geknak.
Maroela se agterlyn het telkemale met gemak oor die voordeellyn gebars om volgehoue druk op Bastion toe te pas.
Swak dissipline deur Bastion het egter verseker dat Steinhoff Maroela konstant balbesit in Bastion se helfte geniet het. Die laaste spyker in Bastion se doodskis was toe Bornman nog 'n strafskop oorgeskop het.
'n Teleurgestelde Steinhoff Bastion-afrigter, Tobie Kirkham, het na die wedstryd aan varsitycup.co.za gesê "ons was nou die afgelope drie wedstryde die beste span op die veld, maar elke keer an die verloorkant. So leer mens maar uit jou foute.
"Toe ons 16-9 voor was, moes ons die knoop deurgehak het. Ons agterlyn te veel hanteerfoute gemaak en ons het nie ons kanse benut nie."
Bastion kom volgende week op UJ Stadion teen Patriot (van TUT) te staan (afskop 5nm).